Tuesday, April 6, 2010

Baie van ons is in die bevoorregte posisie om pragtige en oulike troeteldiere te hê. Of dit nou goudvissies in 'n akwarium of groot honde is, troeteldiere bring gewis baie vreugde in die lewe van hul eienaars.

Daar is eienaardige troeteldiere, maar die meeste mense is tevrede met honde, katte, kanaries, papegaaie, perde, hasies, marmotte, vissies of wit muise vir troeteldiere.

Hoewel dit opsigtelik is hoe mense en veral kinders die geselskap van troeteldiere geniet, is daar ook dieperliggende voordele aan die samesyn met toeteldiere. So is daar deur wetenskaplikes bepaal dat wanneer mense wat gestrem of siek is 'n troeteldiertjie soos 'n hondjie streel, hul bloeddruk begin daal na 'n meer normale vlak. Die pasiënte is ook meer ontspanne en glimlag selfs.

Troeteldiere moet met sorg gekies word en het redelik baie behoeftes. Die kos moet toepaslik wees, rus of slaapplek moet behoorlik ingerig wees en sommige diere moet geborsel of geroskam word. Baie vra gereelde oefeninge, soos om te gaan stap of met 'n bal te speel. Besoeke aan die veearts is ook belangrik en liefdevolle versorging op 'n volgehoue basis is van primêre belang.

Hoewel troeteldiere kinders leer om verantwoordelikhede al hoe beter te bemeester, word dit nie aanbeveel om 'n troeteldier, wat baie versorging nodig het, vir 'n te jong kind te gee nie. Slegs as ouers of ouer broers of susters bereid is om te help met die versorging, kan so iets oorweeg word. Dit is ook uiters nadelig vir bv. vir klein katjies of hondjies om sommer skeef opgetel te word deur 'n baba of peuter. Vir beide die troeteldier en die kindjie, want die diertjie kan dalk byt of krap, omdat hy seerkry.

Troeteldiere vervul ook groot rolle as werkersdiere of geselskapsdiere. So is daar die honde wat deel van redddingsspanne uitmaak by rampsituasies, honde wat deel van die polisiemag vorm, of honde wat as gidshonde dien vir blindes. Daar is ook honde wat ander gestremdes help met hul huishouding, bv. om items nader te dra. Honde word ook by sommige mense wat aanvalle kry, gebruik. Blykbaar kan sommige honde die aanloop tot die aanval waarneem, agv die verandering in die persoon se asem- of velreuk voor so 'n aanval. Die hond kan dus die persoon help om 'n veilige sitposisie in te neem voor die aanval 'n aanvang neem en voorkom dat die persoon nie val en seerkry nie.

Perdry is al deur mense gebruik in gevalle waar persone deur traumatiese ervarings gegaan het en sukkel om weer sosiaal deel te neem aan gesprekke. Vriendskappe met perde is bekend vir baie eeue en word soms by oorlogsverhale gelees, maar die terapeutiese waarde van perdry en die versorging van die dier word deesdae al hoe meer belig.

Hoewel verhale van hondehelde baie die lig sien, is daar tog ook verhale van katte wat mense gewaarsku het teen aardbewings, 'n brand in die huis, of aankomende storms. Daar was ook katte wat hul eienaars wakker gemaak het toe inbrekers wou probeer kwaaddoen.

Troeteldiere is wonderlik, maar bly 'n baie groot verantwoordelikheid. Kom ons gee hul die liefde en versorging wat hulle nodig het. Ons sal beslis beloon word met 'n veel groter onbaatsugtige vriendskap en liefde as wat ons ooit self kan gee.

Wat is jou
gunsteling troeteldier
en waarom?